Friday 14 December 2012

Vrywilligers word opgeroep!

Ons is almal bewus van die situasie waarin Oos Kaap se onderwys homself bevind. Sophakama Tutor program fokus daarop om kinders te help om lees en basiese wiskunde te bemeester. Hoe meer ons met skole en ander instansies praat, hoe dieper kom ons onder die indruk van hoe groot die behoefte vir hulp in hierdie twee areas is.

Ons het die afgelope 18 maande 'n program saamgestel uit verskillende bronne en met groot welslae beproef. Daarom is ons oortuig dat dit 'n baie handige instrument kan wees om die nood waarvan ons praat, sinvol aan te spreek.

Dus roep ons nou vrywilligers op om hulself vir een skooljaar te verbind om 'n uur twee keer per week met drie kinders wat sukkel met lees en basiese wiskunde, te werk.

Die vrywilligers hoef nie opgeleide onderwysers te wees nie. Opleiding sal voorsien word sodat vrywilligers basies 'n ouer wat help met huiswerk se rol aan die kinders kan vertolk. Hulle sal die diens doen by skole of instansies wat ons (Sophakama) vir hulp genader het.

Die vrywilligers moet ook bereid wees om op twee naweek kampe met hulle kinders te gaan. Tydens hierdie naweke wil ons ook ander areas van ontwikkeling bv. sosiaal, emosioneel, fisies en geestelik, aanspreek. ('n Sophakama bedieningspan sal vrywilligers op sulke kampe vergesel.)

Vrywilligers sal self verantwoordelik wees vir die kostes van hulle opleiding, tutor knapsak en vervoer na en van hulle plek van diens. ('n Tutor knapsak sluit in alle materiaal wat nodig gaan wees vir die jaar se tutor). Hulle kan natuurlik hulle gemeente of ander instansies nader vir donasies.

Indien enige iemand belangstel om 'n vrywilliger te wees of meer inligting verlang, kan hulle vir my by Sophakama2012@gmail.com kontak.

My hoop is dat hierdie oproep biddend oorweeg sal word, vir die kinders van die Oos Kaap se toekoms se onthalwe.

Evelyn Lotz

1 comment: